Gigi strip haar vir man

  • Posted in News
  • Comments 0

Perle (Gigi) van Schalkwyk (45), die eksotiese danseres en eienaar van The Lollipop Lounge in Johannesburg en wenner van die televisie-werklikheidsprogram Survivor SA: Santa Carolina, is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem en in ’n sel aangehou nadat sy en haar vervreemde man in ’n stoeiery by hul huis betrokke geraak het.

Egmont Sippel, ’n motorjoernalis, het Dinsdag ’n klag van aanranding teen sy vrou by die Bramley-polisiekantoor in Johannesburg ingedien.

Sippel het ook ’n beskermingsbevel bekom wat Gigi verbied om hul drieverdieping-spoghuis in Atholl, Sandton, te betree.

Albei woon nog in die huis.

“My voël. My arme voël het nie kos nie. Ek mis my twee katte, Chopin en Igor. En my klere!” het sy die afgelope week aan Rapport gesê.

Gigi was erg ontsteld toe sy vertel het van die stoeiery.

“Man, hy het nie eens ’n blouoog gehad nie. Waar het ek hom geslaan? Ek het wel skraapmerke aan my arms opgedoen en my gewrigte was seer en ek moes pynpille gebruik.”

Die twee is al die afgelope twee jaar van bed geskei, maar hulle deel steeds die kombuis en maak soms vir mekaar koffie.

“Dinsdag het ek gesien hy het lêers by hom. Ek het besef dis my persoonlike lêers wat hy uit my kas gehaal het. Dis dokumente van my huis in Franskraal wat ek en hy saam gebou het. Maar die huis is op my naam.

“Toe gryp ek hom aan sy baard en sy hare in ’n poging om die dokumente te kry. Maar hy was so geheimsinnig. In die stoeiery het ek my gewrig seergemaak.

“Hy het toe sy skoene aangetrek en is daar weg in sy kar.

“Die volgende oomblik kry ek ’n oproep van die Bramley-polisiekantoor wat sê hy het klagte teen my ingedien en dat ek saam met my prokureur daarheen moet kom. Toe ek daar kom, het hulle my twee uur lank in die selle toegesluit.

“Hy het daar aangekom en gesê dis hartseer om my so te sien. Toe sê ek hy moet dan die saak terugtrek. Hy het toe die klag teruggetrek, maar die beskermingsbevel was nog van krag.”

Ingevolge die bevel mag sy nie naby hul huis kom nie. Gigi moes drie dae lank by vriende bly.

“Benewens my voël, Mika, en my katte, moes ek my manuskrip vir my verhoogstuk Nipplecaps & G-Strings ook kry . Ek moes nuwe onderklere gaan koop,” vertel sy by haar ontkleedansplek, The Lollipop Lounge.

Sippel het toe ingestem dat sy Vrydagmiddag (eergister) laat saam met haar prokureurs haar diere en klere uit die huis kon verwyder.

Die twee het in 1997 getrou.

Die huwelik het verbrokkel kort nadat sy in 2010 aan Survivor deelgeneem het.

“Toe ek terugkom van die eiland, het ons bediende gesê daar was ’n vreemde vrou in ons huis terwyl ek aan Survivor deelgeneem het. Ek het hom gekonfronteer, maar hy ontken dit. Van toe af was ons huwelik nooit weer dieselfde nie.”

Verlede maand was daar ’n struweling toe hy van die meubels uit hul strandhuis in Franskraal naby Gansbaai verwyder het.

Dit het die verhouding tussen die twee verder versuur.

“Egmont is ’n wonderlike mens en hy het ’n briljante brein. Maar ek sien nie kans om so aan te gaan nie. Ek wil net aangaan met my lewe,” het ­Gigi gesê.

Sippel wou gister niks meer oor die aangeleentheid sê nie